Ek en my baie siek, sterwende tannie reis na 'n onbekende bestemming. Dis vinnig en vlugtig en sonder dat ek eintlik weet hoe ek my bestemming bereik het, is ons daar. 'n Vrou wat bekend is aan my tannie neem haar na haar kamer. In my droom is my tannie blakend gesond, kan loop en lyk gelukkig en rustig. Die oomblik toe die vrou die gordyne in die kamer ooptrek, snak ek na my asem. Die vensters strek van die dak tot teen die grond en die asemrowende uitsig hier voor my oe, is net te mooi om te begryp. Onder en voor my is diep blou water wat 'n meer vorm. In die verte is die digte groen oerwoud, met die potblou hemel bo dit. Die beskrywing van die bostaande toneel is tog iets wat werklik bestaan, maar in my droom is dit onwerklik mooi en soos iets uit 'n sprokie. Opgewonde neem die vrou my na 'n balkon en daar is 'n klein roei bootjie vasgemeer met 'n anker aan die balkon se reelings. Ons klim in die bootjie. Die meer is net bedoel vir motor bote en vir seiljagte. Ek en die vrou wat verlangs bekend is aan my, roei en niemand stop ons nie. Vinnig beweeg ons deur die blou water en daar is nie 'n briesie wind nie. Dit is nie koud of warm nie. Alles is so perfek, soos dit net NIE kan wees hier op aarde nie, en ek wonder of ek droom. Ek roei en roei kilometer ver, nader aan die groen oerwoud. Dit voel of ek sweef deur die water en deur die digte groen oerwoud ingetrek word, maar dan draai ek om. Naby aan die huis waar ons tuis is, maak ek 'n verkeerde draai en is skielik tussen 'n klomp groot motor bote. Ek kry gou my pad terug, so asof ek al daar was en die omgewing ken. Terug in die huis voel ek welkom, maar ek verneem ek het nie my eie kamer nie, en slaap op 'n bank in die middel van die huis sonder 'n uitsig. My droom is klaar. Ek wil nie he dit moet ophou nie en beweeg bewustelik terug daarna om nog 'n bietjie van die sprokie te kan beleef. Tussen slaap, wakker, realiteit en sprokie beweeg ek vir 'n hele rukkie.
Die oomblik toe ek wakker word wonder ek of dit nie God se manier is om vir my te se, jy sal dit wel maak tot in My huis, maar jou lewe is van so aard dat jy nie 'n kamer met 'n uitsig gaan kry nie. My siek tannie gaan deur 'n tyd waar skadu's oor haar gedaal het en haar lig verdof het. Dit kan ook God se manier wees om 'n boodskap aan my tannie oor te dra en gerus te stel. Sy moet nie bang te wees om na haar permanente huis toe te gaan nie. Sy gaan die beste kamer met die beste uitsig kry en sy gaan welkom en tuis voel.
No comments:
Post a Comment