Top Buttons

Thursday 18 August 2011

Die Moordenaar (deel 2)

Hendrik het haar laat lag. Sy het weer rede gehad om te lewe. Sy kon haar self wees. Sy het net na universiteit met George begin uitgaan en dus nooit 'n kans gehad om haar self te vind nie. Sy was oorspronklik deur George forseer om 'n stokperdjie te beoefen, maar later geleef vir haar kuns. Hendrik het saam met haar lang ente langs die see gaan stap. Party keer het hulle nie eers nodig om te praat nie. Sy blote teenwoordigheid is genoeg vir Suzanne. Hendrik se hart was sag en goed en hy was so lief vir diere. Hulle het 'n verhouding begin en Suzanne het selfs die moed gekry om vir George te se sy wil skei. In die vrees vir sy woede was sy te bang om vir hom te vertel van Hendrik. Hy wou niks weet nie, en net gemompel dat sy 'n ondankbare slet was. Die volgende dag het George 'n desperate poging aangewend en 'n bakkie vrag blomme laat af lewer met 'n boodskap "Jy is net myne verewig en altyd"

George het haar laat agtervolg deur 'n privaat speurder nadat sy vir hom gevra het vir 'n egskeiding. Suzanne was nie bewus daarvan nie, en het Hendrik aanhou sien. Hulle was besig om haar uitstalling te beplan en het meer tyd as gewoonlik saam spandeer. Die uitstalling sou die begin van die res van haar lewe wees, het Hendrik gese. Sy verf onder die naam Suzanne. Sy sou bekend gewees het as skilder en nie as moordenaar nie. Hulle het tydskrifte, koerante selfs televisie joernaliste na die uitstalling genooi. Hulle het die beste spyseniers gehuur en KRUIK ballet dansers om die uitstalling te open. Die wyn en vonkelwyn is gekies deur wyn kenners, en selfs 'n bloemis wat verskeie rangskikkins van wit lelies moes maak. Alles was in plek en Suzanne het 'n bekende ontwerper gaan sien om haar rok te ontwerp. George self het nie geglo in haar talent nie, en ook nie dat die uitstalling haar sukses sou bring nie. In die poging om Suzanne se hart terug te wen het hy ingestem om vir alles te betaal. George wou net he dat die uitstalling stil verby moet gaan sodat hulle kon aangaan met hul lewe, en sy kan afsien van haar belaglike planne om 'n bekende skilder te word.

Die gallery was omskep in 'n towerland met Suzanne se olie verf skilderye, blomme, kerse en die regte beligting.
Die openings aand het Suzanne soos 'n droom gelyk en George het Hendrik nie 'n oomblik gegun om aan haar sy te wees nie. Haar uitstalling het heeltemal uitverkoop, en die kamaras het heel aand geflits. George was plat geslaan van verbasing en kon sy oe nie glo wat voor hom afspeel nie. Hendrik sal dus in die prentjie bly want hy is die suksesvolle Suzanne se agent. Suzanne het 'n klein fortuin gemaak en is nie meer afhanklik van hom nie. Sy is nou die belangrike, bekende een waarna almal opkyk. Hy was blind met woede, maar het hom self beheer in die verteenwoordigheid van die gaste. Suzanne het voor sy oe verdwyn en sy hart begin klop. Hy wag 'n paar minute voor die dames toilet en toe sy nie haar verskyning maak nie hardloop hy na buite. Eerstens om Suzanne te soek en ook om asem te skep, en alles wat gebeur het te probeer inneem en verwerk. Hy loop met groot tree om die gebou en daar in die donker half veskuil agter 'n boom staan sy Suzanne. Sy lyk soos 'n engel. 'n Engel wat syne was en wat hy deur sy vingers laat glip het. Saam met haar is Hendrik en hulle omhels en soen dan harstoglik.

George gaan wag by die deur want hy weet Suzanne moet terug kom na die uitstalling. Saam met hom wag joernaliste wat almal met Suzanne wil praat.

Sy antwoord al die joernaliste vleiend, en is baie opreg oor haar kuns. Oor haar persoonlike lewe rep sy nie 'n woord. Sy voel sy sweef, en die gevoel van sukses is onbeskryflik. Nou het sy die selfvertroue en die mag om van George te skei, maak nie saak hoe hy gaan baklei nie. Sy is gereed vir haar nuwe lewe. Meeste van alles sien sy daarna uit om by Hendrik te wees.

By die huis gekom, is George dadelik kamer toe om hom self in te spuit. Suzanne val op die rusbank neer en maak haar oe toe en speel die aand oor in haar kop. Sy is baie verbaas toe sy haar oe oop maak en George voor haar sien staan met 2 glase vonkelwyn. Hy sit die glase op die tafel voor hulle neer. Hy stoot een glas na Suzanne toe. "Kom ons drink op jou sukses" se hy sarkasties. Suzanne kom agter George het soveel dwelms in sy lyf dat hy skaars reg op kan staan. Sy oe swem in sy kop. "Drink wat ek vir jou skink of wil jy dit eerder saam met jou geliefde Hendrik vier?" Suzanne word warm van skuld gevoel en 'n oomblik later voel sy pyn soos hy haar deur die gesig slaan. "Drink" skree hy. Suzanne kyk na die glas vonkelwyn. Sy kom agter dat haar glas se inhoud baie dowwer is as die wat in George se glas is. George is so onder die invloed dat hy nou agter oor stuier en soos hy val ruil Suzanne hulle glase om. George is so onder die invloed dat hy dit nie agter kom nie. Sy help hom orent en lig haar glas op. Om die vrede te bewaar en om net veilig te wees tot sy uit die huis kan ontsnap sal sy drink saam met George. Sy vermoed hy het dwelms in haar glas gegooi. Sy is nie seker of hy haar ook in 'n verslaafde wil verander of wat die rede kan wees vir die inhoud in die glas. Sy wil net nie 'n kans vat nie. Haar lewe is op so 'n hoogtepunt dat sy niks wil waag om dit te verander nie. Sy lig haar glas op en sy en George klink hulle glase teen mekaar. "Geluk aan jou .................tot in alle ewigheid Suzanne" se hy en sluk die vonkwyn in een teug af. Suzanne vat 'n slukkie. Hy gaan sit op die rusbank en kyk met verwyt in sy oe na haar.
Later daardie aand sterf George 'n vreeslike dood weens vergiftiging. Suzanne is so geskok dat sy seker 'n half uur in skok versteen sit. Uiteindelik staan sy op en bel die polisie.

Dis nou omtrent 'n jaar later, en die die blou water is darem nie al wat Suzanne se siel kan gesond maak nie. Hendrik kom sit by die tafel langs haar. Hy sit sy hand bo-op hare en hulle kyk in mekaar se oe. Op daardie oomblik weet Suzanne, sy sien vir alles kans met Hendrik aan haar sy. Haar prokureurs het haar aangeraai om nie haar minnaar te sien terwyl sy onder die verdenking van moord was nie. Hendrik het verstaan dat dit die beste vir haar sou wees tot haar onskuld bewys is en het belowe om vir haar te wag.

Hy het, en vandag is hy hier. Dit gaan moeilik wees om die verlede te vergeet en selfs moeilik wees om weer te skilder. In sy arms sal haar nagmerries verdwyn en sal sy ten volle herstel en sy sal uiteindelik bekend staan as Suzanne die kunstenaar.

Die einde

No comments:

Post a Comment